loading
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-se-werkportaal-n-nuwe-era-vir-gelyke-kanse

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit se werkportaal: ʼn nuwe era vir gelyke kanse

Deur Reon Janse van Rensburg

In ʼn tyd waarin inklusiwiteit en gelyke geleenthede in die werkplek hoë prioriteit geniet, maar waar duisende Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners steeds die ongelykheid van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark beleef, het Solidariteit na vore getree met ʼn innoverende werkportaal wat ʼn nuwe era van aanstellings op grond van meriete beklemtoon. Hierdie werkportaal bied werkfasilitering en ʼn unieke geleentheid vir werkgewers om poste te laai sonder die beperkinge van velkleur, waar meriete die kroonjuweel in aanstellings is en alle aansoekers werklik gelykheid kan geniet.

Die Solidariteit-werkportaal se revolusionêre aanslag

Solidariteit se werkportaal wat in September 2023 geloods is, het vinnig vir werkgewers ʼn bron geword wat gelyke kanse en meriete hoog ag wanneer hulle beskikbare poste wil adverteer. Met ʼn indrukwekkende getal van 1 180 deelnemende organisasies wat reeds poste op Solidariteit begin adverteer het, en 3 122 geadverteerde poste waarvoor werknemers reeds kon aansoek doen, spreek Solidariteit se werkportaal van ʼn nuwe benadering tot die werksoekproses.

Gelyke kanse vir almal

Een van die opvallendste kenmerke van Solidariteit se werkportaal is die afwesigheid van velkleurbeperkings weens die omstrede BEE-wetgewing wat deur die regering op maatskappye afgedwing word. Die werkportaal oorbrug ʼn gaping in die mark deur ʼn omgewing te skep waarin werkgewers poste kan laai sonder die beperkinge wat reëls oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) aan hulle oplê. Dit beteken dat meriete eerder as velkleur as maatstaf vir suksesvolle aanstellings gebruik word.

Statistieke wat boekdele spreek

Sedert die bekendstelling van Solidariteit se platform in September 2023 is meer as 6 151 CV’s ontvang en meer as 38 216 mense het reeds hul gratis profiele geskep. Solidariteit het sedert die bekendstelling van sy werkportaal reeds meer as 20 115 besoeke aan die werk-afdeling gelok. Hierdie statistieke beklemtoon die toenemende belangstelling en sukses van ‘n merietebenadering tot aanstellings en die rol wat Solidariteit daarin speel om sy lede en die breër Afrikaanse gemeenskap by te staan om geleenthede vir goeie werk te vind.

Gebruikersvriendelik

Werkgewers het positiewe terugvoer gelewer oor die gebruikersvriendelikheid van  Solidariteit se werkportaal. Die deurlopende samewerking met Solidariteit verseker ʼn pynlose proses vir werkgewers wat enige uitdagings wat hulle mag ervaar, kan aanspreek. Kundiges staan gereed om werkgewers by te staan ingeval hulle sukkel om die proses te voltooi.

Indien jy enige navrae het, stuur gerus ‘n e-pos aan werk@solidariteit.co.za waarna ʼn kundige jou te hulp sal snel.

Solidariteit se werkportaal is nie ʼn plek vir beperkings of diskriminasie teen kandidate se velkleur nie

Dit is van uiterste belang om te beklemtoon dat Solidariteit se werkportaal nie ʼn ruimte is waar velkleurbeperkings ʼn rol speel nie. Die werkportaal beklemtoon meriete, en werkgewers het die vryheid om kandidate op grond van kwalifikasies en vaardighede te kies sonder dat daar teen aansoekers gediskrimineer word. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat Solidariteit nie namens werksoekers aansoek doen vir poste nie en dat Solidariteit nie vir sy lede of die publiek werk soek nie, maar dat die Solidariteit-werkportaal as middelman tussen werkgewers en werknemers dien – ʼn bymekaarkomplek vir mense wat belangstel om in hul beroep, loopbaan en kennis te vorder.

Ons as ‘n gemeenskap moet mekaar help om werk te kry en ons moet mekaar se vaardighede benut. Elkeen wat wil werk, moet kan werk, vry van inmenging deur die staat. Solidariteit is dié bymekaarkomplek vir elkeen wat poste wil plaas of vir poste wil aansoek doen. Dit is werkfasilitering vir ons gemeenskap – Solidariteit skep ʼn plek met integriteit vir ernstige mense wat regtig wil werk.

Die toekoms van aanstellings

Solidariteit se innoverende werkportaal verteenwoordig ʼn nuwe era van werkaansoekprosesse, waar gelyke kanse en meriete hoog geag word. Vir werkgewers wat die toekoms van inklusiewe aanstellings wil omhels, bied Solidariteit ʼn pad na ʼn nuwe era van werkgewer-werknemer-verhoudings. Hier word jou pos nie net gratis geadverteer nie; dit word ook namens jou bemark.

Solidariteit is nie ‘n werwingsagentskap nie, maar ons werkfasiliteringsplatform is ʼn aanlyn bymekaarkomplek waar werknemers en werkgewers in Afrikaans met mekaar kan netwerk! Werwingsagentskappe maak ook reeds van Solidariteit se werkportaal gebruik en beide werkgewers en werknemers trek voordeel daaruit.

As werkgewer kan jy ook gratis gebruik maak van Solidariteit se werkportaal. Hier kan jy poste in Afrikaans adverteer en het jy toegang tot ʼn enorme poel werksoekers wat oor ʼn verskeidenheid vaardighede beskik wat jou onderneming kan baat. Hoewel Solidariteit se stryd teen SEB vorder, is dit ons elkeen se verantwoordelikheid om mekaar te help. #ElkeenHelpEen

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel