
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit se Studente-aanbod: Jou sleutel tot ʼn suksesvolle studentelewe
Deur Ané Janse van Rensburg
Solidariteit se aanbod vir studente het ten doel om jou met kennis, geleenthede en netwerke te bemagtig sodat jy jou tersiêre studie met mag en mening kan aanpak! Solidariteit help jou dus om vir ʼn blink en voorspoedige toekoms voor te berei.
“Die Studente-aanbod bied ʼn geleentheid wat min studente ontvang omdat dit jou ook vir die werkplek voorberei. Solidariteit help jou met die opstel van CV’s, voorbereiding vir werksonderhoude, netwerkgeleenthede, skaduwerk en verskeie kompetisies en opleiding. Indien ʼn student bo ander kandidate wil uitstyg en teen die einde van sy/haar studie ʼn volledige en indrukwekkende CV wil hê, moet hulle nie hierdie geleentheid misloop nie,” sê Megan Meyer, ʼn intern by Solidariteit se Studente-afdeling.
Die Studente-aanbod word in drie dele opgedeel, met verskillende produkte, geleenthede en hulpbronne wat ontwikkel is om jou studentejare te verryk en om jou te bemagtig.
#JouStudie
Op universiteit besef jy dat daar ʼn groot sprong tussen skool en tersiêre studie is. Solidariteit help jou om jou volle potensiaal te bereik deur jou met die nodige kennis en vaardighede te bemagtig om jou studie met gemak aan te pak! Hierdie aanbod sluit in ʼn eksamenbeplanner en ʼn produktiwiteitstemplaat wat jou kan help om jou belangrikste take eerste aan te pak, en wat jou herinner aan jou sperdatums.
Solidariteit glo dat elke jong mens met studiedrome die geleentheid moet hê om hulle toekoms oop te leer. Alhoewel tersiêre onderrig ʼn beduidende finansiële impak op jou ouers se finansies het, hoef dit nie ʼn bepalende faktor te wees vir jou om te studeer nie. Die Studente-aanbod gee jou toegang tot inligting oor verskeie beurse en lenings waarvoor jy kan aansoek doen om jou studie te befonds. Lees hier meer oor dié studieondersteuning.
#JouStem
Solidariteit bied ʼn platform vir studente om hul stemme te laat hoor. Hier kan jy die tonge laat klap deur ʼn meningstuk te skryf wat moontlik op Maroela Media gepubliseer kan word. Hierdie portaal is ʼn veilige ruimte waar enige student ʼn verskil kan maak deur openbare gesprekke te voer oor kwessies wat ander studente ook raak. Lees hier meer oor Solidariteit se #JongStemme-projek.
#JouWerk
Solidariteit wil saam met jou op jou voorbereidingspad na die wêreld van werk stap. Danksy die Student-tot-meester-netwerkgeleentheid, slypskole wat spesifiek vir jou studierigting geskep is, fasilitering vir skaduwerk, ʼn CV-gids en advies, sowel as ʼn onderhoudgids, kan jy jou toekomstige werk met selfvertroue aanpak!
“Solidariteit se Studente-aanbod sien daarna uit om studente te help om vir die werkplek voor te berei en om reeds vanaf hulle eerste jaar van studie die pad tydens hulle studiereis en loopbaan saam met hulle te stap. Die groei en ontwikkeling wat ʼn mens by die studente gaan sien, is iets om na uit te sien en is ʼn hoogtepunt vir almal wat betrokke is. Ons sien ook geweldig uit na die netwerke wat die studente met mense in die beroep gaan bou, asook met mekaar,” sê Meyer.
“Solidariteit glo dat enigiemand wat wíl werk, góéd moet kan werk en hulle volle potensiaal moet kan bereik. Hierdie ideaal begin reeds tydens ʼn mens se studentedae, en om jouself van die res te kan onderskei. Solidariteit se aanbod vir studente bemagtig hulle om aansoek te doen vir werk met ʼn CV wat bo dié van hul medestudente uitstaan. Sou jy studeer en van ons Studente-aanbod gebruik maak, wil ons dit vir jou so maklik as moontlik maak om eendag ʼn goeie werk te kry en die reis na sukses saam met ons aan te pak,” sê Chereé Meyer, organiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod.
Moenie verder op jou laat wag nie! Bemeester #JouStudies sommer met die intrapslag, vind #JouStem en berei voor vir #JouWerk! Raak betrokke by ʼn gemeenskap wat saam met jou op jou pad as student wil stap! Registreer jou gratis profiel op Solidariteit en maak gebruik van ʼn reeks hulpbronne wat jou in hierdie nuwe fase van jou lewe kan bemagtig!